|
My Dankoffer
Vanuit die Skrif is dit duidelik dat gelowiges die werk van die Here finansieël moet ondersteun. Dit val onder die werke van die geloof wat uit dankbaarheid gedoen word (Jak 2:14). Omdat Christus my met sy kosbare bloed losgekoop het (1 Pet 1:18,19), behoort ek, met alles wat ek het, aan Hom. Daarom moet ek 'n gedeelte van my inkomste uit dankbaarheid as 'n dankoffer aan Hom teruggee, om sy werk in die wêreld voort te sit.
Ek gee dus hoofsaaklik uit dankbaarheid, maar ook om die volgende redes:
- omdat dit God se wil is (Mal 3:10; 2 Kor 8:1-5 en 9:5);
- omdat ek God nie mag beroof nie (Mal 3:9);
- omdat ek by my sterwe niks kan saamneem nie (1 Tim 6:7);
- omdat ek oor my besittings slegs tydelike rentmeester is (Luk 16:1,2);
- omdat God sy beste aan my gegee het (Joh 3:16 en 2 Kor 9:15).
- Daarom gee ek dankbaar, blymoedig en sonder dwang (2 Kor 9:2-7), maar ook op die volgende manier:
- sistematies, volgens 'n vaste plan, in ons geval, weekliks ons offergawes by die erediens en maandeliks ons dankoffer;
- proporsioneel, met ander woorde in verhouding tot die mate wat ek die seën van die Here ondervind en van Hóm materiële gawes ontvang (2 Kor 8:12 "volgens wat hy het"; 2 Kor 8:3 “na vermoë, ja bo vermoë”; en Mal 3:10 waar daar sprake is van die “volle tiende”, sodat ons ‘n behoorlike deel van ons inkomste vir die Here se werk afstaan);
- eerlik, sonder om die Here te probeer bedrieg, of skuldig te voel dat ek sy werk afskeep (Hand 5:1-10).
Bankbesonderhede
Naam van Rekening: NG Gemeente Wilgespruit Bank: Absa Horison Tjekrekening nommer: 0330 580 585 Takkode: 632005
Indien moontlik, sal ons dit verkies as jy jou dankoffer maandeliks deur middel van 'n debietorder kan gee. Vir dié doel is 'n debietordervorm agter in hierdie brosjure ingebind. Jy kan dit invul en saambring na die volgende erediens en dit in die dankoffersak plaas.
Wat is die voordele van ‘n debietorderstelsel? Dit behels:
- 'n kleiner administratiewe las, deurdat minder geld fisies in die kerkkantoor getel hoef te word;
- minder risiko van kontant wat in transito geroof kan word;
- 'n gesonde besigheidsbeginsel, deurdat die Finansiële kommissie die begroting noukeuriger kan bestuur;
- dat jyself die inisiatief neem om jou dankoffer by die kerk te besorg en nie vir ‘n dienswerker wag wat dit by jou huis moet kom haal nie.
Klik hieronder om die debietordervorm oop te maak, druk dit uit, voltooi in blokletters en faks na (011) 768-3584
Debietordervorm
Alternatiewelik sal ons koördineringskantoor maandeliks ‘n dankofferkoevert per pos aan jou stuur, waarin jy jou bydrae kan plaas en saambring erediens toe.
Baie dankie vir jou vriendelike samewerking en ondersteuning in hierdie verband. Dit is 'n wonderlike voorreg om saam met jou ons wonderlike God en Vader te dien wat ons in Christus en deur sy Heilige Gees op sovele maniere seën.
|