top of page

Barmhartigheidsbediening

Wat beteken die woord “barmhartig”?  Dit beteken om medelye te hê met iemand wat in nood is;  om saam te voel met iemand wat swaarkry en hom/haar sag te behandel.  Vir Christene is God die Fontein van barmhartigheid.  Daar is ‘n Skrifwoord wat sê:  “Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde.

Hy is bereid om straf te herroep” (Joël 2:13).  Ons weet dat die hemelse Vader sy Seun, Jesus Christus, gestuur het om vir mense te wys hoe barmhartig en liefdevol God presies is.  Hy het sy onskuldige Seun gegee om in die plek van skuldige mense gestraf te word met die dood aan die kruis.  Mense wat in Jesus glo, word vrygespreek – en natuurlik word hulle uit dank-baarheid die mees barmhartige mense!  Dit is geen wonder dat Jesus gesê het:  “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is” (Lukas 6:36) en “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matteus 5:7).

Wat doen die Barmhartigheidsbediening van Wilgespruitgemeente?
Hulle het verskillende jaarlikse- en deurlopende projekte wat op noodverligting gemik is:
• Winterwarmprojek – windbrekers, musse en serpe word aan skole geskenk
• Broodjieprojek – op Woensdae is daar baie werksoekers op die straathoeke – hulle kry ‘n

  geestelike boodskap en daarna ‘n lekker toebroodjie of twee
• Maandelikse Jumble Sale – mense skenk goeie tweedehandse klere en dit word baie billik verkoop

  aan mense in ons omgewing
• Princess voedingskema – vleis word opgekook en saam met brood bedien aan hoofsaaklik

  bejaardes en kinders in ‘n mindergegoede woonbuurt
• Kerskospakkies – gedurende November word elke jaar tientalle sakkies met kruideniersware 

  geskenk en vroeg-Desember versprei by skole en gesinne in nood
• Betrokkenheid by Luipaardsvlei tehuis vir bejaardes – maandelikse skenking van kosmetiese

  ware, met iemand wat liefderyk voet- en handversorging onder die inwoners doen
• Terug-skool-toe-projek – jaarliks word skryfbehoeftes ingesamel en onder leerders by laerskole

  versprei
• Mense wat aanklop om hulp word met ‘n kospakkie gehelp en daar is gesinne wat bygestaan word

  met die bestuur van hul uitgawes, veral rondom kinders wat na-skool versorg moet word.

Die goeie nuus is:  Jy is ook welkom om te kom help!  Dalk wil jy eers kom kyk wat gebeur. 

Skakel Alma Fourie by 082 455 8336

bottom of page