
Selgroepe en Nuwe intrekkers
Voorsitter: Gunter Deutschlander
082 809 0588

Handelinge 2:46 & 47: Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

'n SELGROEP is 'n belangrike faset van kerk wees. Sel groepe bied die geleentheid om mekaar op ‘n geestelike vlak te ondersteun sodat almal effektiewe getuies vir Jesus kan word. Lidmate ontdek hulle plek en funksie in Sy liggaam saam met ander gelowiges.
Dit is ’n plek waar ons mekaar ontmoet, bedien en ander lede intrek asook ‘n geleentheid waar geloofsekerheid gevind kan word en ons toegerus kan word om uit te reik na ander. In die Selgroep word die liefde van Christus sigbaar wanneer ons begin fokus op verhoudinge. In die Selgroep leer ons die Bybel beter verstaan en sodoende kry ons die geleentheid om die Woord met mekaar en met ander te deel en ook onderwerpe en vrae intensief te bespreek, wat in ‘n gewone erediens nie moontlik is nie.
Dit is ook die plek waar geestelike groei plaasvind. In die Selgroep fokus ons nie net op ons eie behoeftes nie, maar lê die fokus sterk op die uitleef van dit wat ons in die Selgroep leer en beleef uit te leef na buite. Groeplede bid ook vir mekaar en bedien mekaar deur hulle onderskeie gawes.
Niemand op hul eie kan funksioneer nie - ons het verhoudings nodig. Dit is liefdesbande wat ons sterk maak in tye van krisis of siekte of trauma.
​Ons sou graag wil sien dat elke persoon in ons gemeente moet beleef dat hy/sy belangrik is en dat ons omgee as ‘n gemeente. Elkeen kan baat by 'n Selgroep en het 'n bydrae om te lewer. Daarom nooi ons jou dan nou uit om by een van ons Sel groepe of Bybel studiegroepe aan te sluit.

